top of page

Blog

Om te weet wanneer 'n nuwe blog-inskrywing geplaas word, registreer hier.

Search
Writer's pictureMaxie Heppell

Wysheid se eerste asem


“The fear of the LORD is the beginning of wisdom…”

Spreuke 9:10 NIV


In hierdie wêreld is daar baie om voor bang te wees. In sekere dele van die wêreld meer as in ander.


Een oggend hierdie week word ek gekonfronteer met hierdie vraag:


“Check-in:

Are your recent decisions rooted in fear or faith?”

Christian Bosse


Ek sou so graag wou glo dat al my besluite en voetval in ‘n sekere rigting die resultate was van ‘n geloof wat tot dade moes oorgaan. Maar dit is doodeenvoudig net nie waar nie. En vrees laat ons die domste dinge doen.


Ook ons vrees vir die Here.


Maar óns vrees vir die Here lyk anders as die vrees van hulle wat nog nooit die genadekant van ons Vader gesien of beleef het nie.


In die oë van ‘n wêreld wat regstaan om diegene uit te lag wat dit sou waag om in die Jesus-feëverhaal te glo, bestaan daar nie so iets nie.


By hulle wat vinnig is om die vinger te wys na die God in wie se bestaan ons dan glo as die verwoester van lewens en alles wat lewe, skuil daar dalk tog ‘n vreesmotief agter die spoegsels haat.


Niemand het egter ooit vir my hierdie konsep verduidelik soos ‘n sekere S. Conway nie…


“The restfulness of a sense of goodness behind the power…

Illustrated by the different feeling we have toward the giant

when we see him tenderly toying and playing with a helpless babe…

The giant is good.”


En daar draai dit my verstaan van die “vrees van die Here” op sy kop.


My vrees hoef nie die vrees te wees van ‘n veroordeelde wat net wag vir die voltrekking van die vonnis nie.

My vrees hoef nie die vrees te wees van een wat wag om rondom die vuur aangekla te word van ‘n stel voetspore wat ek nie seker is ek kan volstaan nie en dan koes-koes tussen die haan se kraaie moet wegsluip die donker in nie.


Dit is toe nie daai tipe vrees nie. Nie vir ons nie.


Vir die wat glo, beteken die “vrees van die Here” iets heeltemal anders.

Dan is dit die liefde van ‘n meisiekind wat seer in haar pa – daardie pa wat haar in sy arms neem en beskerm en liefhet – se oë vrees as sy weet sy het drooggemaak.

Dan is dit die heldeverering van ‘n man wat met alles in sy wese streef daarna om soos sy pa te wees, maar die man wat soms misluk… en die teleurstelling vrees.


Want die vrees van die Here, begin nie by bangwees nie.

Dit begin by liefde.


Ons heg so maklik menslike emosies en gevoelens aan die Here omdat dit al is wat ons het om mee te werk.

Maar die Here is so ver bo dit.


Onse Vader wat in die hemel is, se oë en se hart sal nooit iets anders as liefde kan skyn nie.

Met die sterkste wil op aarde, sal my grootste droogmaak dit nooit kan verander nie.


Maar sou ek gedurig bewus wees van hierdie liefde en hoe daar van my verwag word om terug liefde te wees, dan is dít die geboorte van wysheid.


Dat ek nou so oud moes word…


Jou temalied vir die week: I know


Comments


bottom of page